Oukei, ek is nie ’n
kenner op dié gebied nie, maar daar is darem ’n paar dinge wat ek van soen af
weet:
* Die meeste
meisies droom al vandat hulle so ongeveer sewe jaar oud is oor hulle eerste
soen.
* Die meeste
meisies hoop om hulle eerste soen by iemand soos Robert Pattinson of Taylor Lautner
of Zac Efron of Chad le Clos te kry. Of ten minste ’n redelik oortuigende
look-alike.
* Die meeste
meisies kry hulle eerste soen by ’n vriendin se neef se pel. Of so iets.
* Dis net in die
flieks waar daar stadige, dromerige musiek begin speel voordat ’n ou jou soen.
* Ditto vir daardie
tonele waar die held en die heldin lank in mekaar se oë staar voordat hulle
lippe in stadige aksie nader aan mekaar beweeg. In die regte lewe kan ’n soen
jou uit die bloute tref wanneer jy dit die minste verwag. Soos ’n blerts voëlmis.
* Altesaam 34
gesigspiere en 112 liggaamspiere word gebruik om behoorlik te soen. (Dankie,
Wikipedia.) So, dis moeiliker as wat dit lyk.
* ’n Soen kan NIE
alle paddas in prinse verander nie.
* ’n Soen ruik nie
noodwendig na aftershave nie – partykeer ruik dit na pizza. Die soort met
knoffel en bloukaas op.
* ’n Soen kan in
Afrikaans “passievol”, “teer”, “innig”, “huiwerig”, “tergend” of “hartstogtelik”
wees. Dit kan ook “jou asem wegslaan” of ’n “verterende vuur in jou diepste
binneste laat ontvlam”. Dis volgens die stapel liefdesverhale wat my ouma laas
vakansie hier vergeet het en waardeur ek een middag geblaai het toe ek eintlik
my wiskundehuiswerk moes doen. Ek kon nie glo my ouma lees stories waarin
meisies “’n verterende vuur” in hulle binneste kry nie. (En nee, hulle bedoel
nie sooibrand nie.)
* ’n Soen kan soos
’n tattoo wees – jy kan agterna baie spyt wees daaroor.