Tuesday, March 12, 2013

10 dinge wat ek van soen af weet


Oukei, ek is nie ’n kenner op dié gebied nie, maar daar is darem ’n paar dinge wat ek van soen af weet:
* Die meeste meisies droom al vandat hulle so ongeveer sewe jaar oud is oor hulle eerste soen.
* Die meeste meisies hoop om hulle eerste soen by iemand soos Robert Pattinson of Taylor Lautner of Zac Efron of Chad le Clos te kry. Of ten minste ’n redelik oortuigende look-alike.
* Die meeste meisies kry hulle eerste soen by ’n vriendin se neef se pel. Of so iets.
* Dis net in die flieks waar daar stadige, dromerige musiek begin speel voordat ’n ou jou soen.
* Ditto vir daardie tonele waar die held en die heldin lank in mekaar se oë staar voordat hulle lippe in stadige aksie nader aan mekaar beweeg. In die regte lewe kan ’n soen jou uit die bloute tref wanneer jy dit die minste verwag. Soos ’n blerts voëlmis.
* Altesaam 34 gesigspiere en 112 liggaamspiere word gebruik om behoorlik te soen. (Dankie, Wikipedia.) So, dis moeiliker as wat dit lyk.
* ’n Soen kan NIE alle paddas in prinse verander nie.
* ’n Soen ruik nie noodwendig na aftershave nie – partykeer ruik dit na pizza. Die soort met knoffel en bloukaas op.
* ’n Soen kan in Afrikaans “passievol”, “teer”, “innig”, “huiwerig”, “tergend” of “hartstogtelik” wees. Dit kan ook “jou asem wegslaan” of ’n “verterende vuur in jou diepste binneste laat ontvlam”. Dis volgens die stapel liefdesverhale wat my ouma laas vakansie hier vergeet het en waardeur ek een middag geblaai het toe ek eintlik my wiskundehuiswerk moes doen. Ek kon nie glo my ouma lees stories waarin meisies “’n verterende vuur” in hulle binneste kry nie. (En nee, hulle bedoel nie sooibrand nie.)
* ’n Soen kan soos ’n tattoo wees – jy kan agterna baie spyt wees daaroor.

No comments:

Post a Comment